Grow Farm

FarmSol plaas fokus op jongmense en vroue in landbou

ʼn Welvarende landbousektor in Suid-Afrika kan nie ʼn werklikheid word sonder die ontwikkeling van kleinboere en by uitstek die ontwikkeling van jongmense nie. Deskundiges waarsku dat voedselsekuriteit teen 2050 ernstige uitdagings in die gesig kan staar. Teen daardie tyd sal Suid-Afrika se bevolking na raming op 73 miljoen te staan kom wat dubbel die huidige produksiekapasiteit sal verg.

FarmSol is ʼn landboudienstemaatskappy in swart besit en ʼn implementeringsvennoot van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se boere-ontwikkelingsprogram. FarmSol wil jongmense by dié program betrek en daardeur bemagtig. Hulle is van mening dat landbou ʼn belangrike pilaar vir ekonomiese ontwikkeling is en dat dié sektor verskeie groeigeleenthede vir jong belangstellendes bied.

Die ontwikkelingsprogram lewer ʼn positiewe bydrae tot kleinboere se landbou-ontwikkeling om sodoende hulself te vestig as hops- en garsuitvoerders – sleutelkommoditeite vir SAB se aanvoerketting. Volgens Statistieke Suid-Afrika, het die land se werkloosheidsyfer vanaf sowat 27% vroeër vanjaar tot 29% in die tweede kwartaal van 2019 gestyg. Die syfer sluit ʼn aansienlike aantal jongmense in, asook mense wat opgehou het om werk te soek.

Aron Kole, besturende direkteur van FarmSol, sê die maatskappy het tot op datum 420 boere in sewe provinsies in die land ondersteun, met ʼn totaal van 113 vroueboere waarvan 32 jong vroueboere in die FarmSol-program is.

“Ons het ʼn aantal vooraanstaande jong produsente in ons program, maar ek dink nie dis genoeg nie. Ons beplan om deur middel van vennootskappe en ʼn geteikende uitreikinisiatiewe meer jongmense en vroue by ons program te betrek. Jongmense se betrokkenheid by landbou is nie net ʼn simboliese kwessie nie, dis ʼn maatskaplike en ekonomiese noodsaaklikheid wat ʼn integrale deel van die sektor se ontwikkeling behoort te vorm,” verduidelik Kole.

Boere-ontwikkeling en 2019-mylpale

Tydens die 2018/2019 somerseisoen, ten spyte van die erge droogte wat baie boere in die program benadeel het, veral in dele van Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat, het boere gesamentlik 25 000 ton geel mielies aan SAB gelewer.

Studies toon dat wanneer beperkinge om veral vroue in landelike gebiede in die landbou te bemagtig uit die weg geruim word, dit groter opbrengste op beleggings, die ekonomie en die samelewing tot gevolg het. FarmSol het ʼn drieledige transformasie-agenda wat daarop gefokus is om landbouwerk, vaardigheidsontwikkeling en volhoubare boere te skep en te onderhou.

Njabulo Mbokane (24), ʼn jong mielieboer van Ermelo, het vanjaar SAB en FarmSol se toekenning vir opkomende boer van die jaar verower vir haar deursettingsvermoë en ontwikkeling as boer. Voordat sy gevorder het na die kommersiële skaal van haar huidige 200 hektaar, het sy haar passie uitgeleef by ʼn skoolgroentetuin in Mpumalanga in 2016.

“Ons mikpunt is nie net ʼn positiewe impak op individuele boere nie, maar ook op gemeenskappe en op die land. Hoewel landbou alleen nie die huidige werkloosheidskrisis kan aanspreek nie, is die sektor ʼn fundamentele deel van die herstelplan deur gesamentlike oplossings wat oor sektore en op veelvoudige fronte sal uitspeel,” sê Kole.

Nog landbouwenners:

  • Vivian Gosekwang Pico van Taung in Noordwes, het die 2019 SAB en FarmSol gars-vroueboer van die jaar-toekenning ingepalm vir haar lewering van 91 ton gars aan SAB tydens die vorige seisoen.
  • Solomon Masango van Morgeson in Mpumalanga is as die mielieboer van die jaar aangewys, nadat hy 636,72 ton geel mielies aan SAB gelewer het.
  • Senokwane Matthews, ook van Taung in Noordwes, het die toekenning vir toppresterende garsprodusent van die jaar ontvang, danksy sy opbrengs van 6,45 MT/ha.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui