Grow Farm

SA rosyntjiebedryf 100 jaar oud

Die Suid-Afrikaanse rosyntjiebedryf is meer as 100 jaar oud en het ’n trotse geskiedenis. Die bedryf het onlangs herstruktureer, met die hoofkantoor nou gesetel in Upington in die Benede-Oranjerivier.

“Droëvrugte Tegniese Dienste (DTD)” is herbenoem na Raisins South Africa oftewel Raisins SA, om sodoende meer klem te plaas op rosyntjes wat nagenoeg 80% van Suid-Afrikaanse gedroogdevrugte verteenwoordig.

Hoe het die bedryf in die laaste vyf jaar gegroei?

Suid-Afrikaanse rosyntjies word sedert die laat-1800’s verskeep na internasionale markte en is bekend vir hul uitstekende gehalte. Vandag produseer die bedryf meer as 70 000 ton/jaar en toon steeds positiewe groei (sien figuur 1).

Figuur 1: Produksievolumes (1996 – 2019)

Tans is ongeveer 80% van die rosyntjies wat geproduseer word, bestem vir die internasionale mark. Nagenoeg 50% van die bedryf se volumes bestaan uit Thompsons en ongeveer 35% is toegewy aan die produksie van topgehalte Goue Rosyntjies. Suid-Afrika produseer ongeveer 30% van die wêreld se totale produksie van Goue Rosyntjies en ongeveer 8% van die totale Thompson-volumes.

Die afgelope 18 jaar is gekenmerk deur ’n opwaartse tendens in die internationale prys van rosyntjies, soos voorgestel in figuur 2. Internasionale pryse het ’n paar jaar gelede teen rekordvlakke van US$2 800/ton verhandel, maar het sedertdien afgeplat na vlakke van US$2 400/ton.

Figuur 2: Prys/ton

Waaraan kan die groei toegeskryf word?

  • Nuwe aanplantings;
  • Hervestiging van wingerde, met meer vrugbare kultivars; en
  • Beleggings in transformasieprojekte deur die regering.

Hoeveel produsente per streek?

Rosyntjieproduksie in Suid-Afrika is hoofsaaklik beperk tot twee streke:

  • Die Oranjerivier-streek in die Noord-Kaap, wat ongeveer 93% van die land se rosyntjies produseer, en
  • Die Olifantsrivier-streek in die Wes-Kaap.

Sleg baie warm en droeë areas met genoegsame water is geskik vir die verbouing van druiwe en die produksie van rosyntjies. Daar is ongeveer 1 000 produsente in die bedryf, versprei oor die twee verbouingstreke.

Hoe het die bedryf die afgelope seisoen presteer en waaraan kan dit toegeskryf word?

Die 2018/19-produksieseisoen was ’n baie goeie jaar vir die droog van druiwe, met uiters gunstigde klimaatstoestande (feitlik geen ryp, haal of reën het in die seisoen plaasgevind nie). Daar was wel ongunstige toestande tydens blomtyd wat gelei het tot ’n toename in die speen van die blomtrosse, wat uiteindelik die trosse is wat produksie dra. Die afgelope seisoen het daar spesifiek in Thompson Seedless se blomtyd ongunstige warmer temperature voorgekom, wat veroorsaak het dat die wingerd sy blomtrosse (trosse) afgegooi het.

Dit het veroorsaak dat Thompson-oeste in menige areas baie lig was, met ’n beraamde verlies van soveel as 2 500 ton (droog) vir die bedryf. Soortgelyke toestande het heel moontlik ook die afname in die korente-oes in die Olifantsrivier-streek veroorsaak.

Tesame met goeie droogproduksie-toestande wat bygedra het tot baie goeie gehalte, het goeie pryse gerealiseer vir die produsente. Die mark het egter afgeplat na afloop van die seisoen en plaas nou die verpakkers, op hulle beurt, onder druk met hoë volumes wat teen verlaagde pryse bemark moet word.

Is daar enige transformasie-suksesverhale in die bedryf?

Die rosyntjiebedryf is bevoorreg met verskeie voorbeelde van transformasie-suksesverhale. Verskeie rolspelers – insluitend die NK se departement van landbou en grondsake, Job Funds, die National Development Agency, Raisins SA en privaatontwikkelings – het menige projekte ondersteun, met groot sukses. Ongeveer 500ha is die afgelope paar jaar ontwikkel teen ’n totale koste van R200 miljoen. Terselfdertyd is daar ook voortgesette aktiwiteite om opleiding aan nuwe toetreders en plaaswerkers te verskaf.

Die bedryf het as deel van sy strategiese plan, genaamd PROJEK 1000, onderneem om ’n area van 1 000ha se nuwe wingerde te vestig. In die proses is 200ha van die 1 000ha geoormerk vir transformasie. Die projek is geloods in Eksteenskuil, naby Keimoes. Die projek is in 2017 suksesvol afgesluit met altesaam 200ha rosyntjiedruiwe wat onder die sorg van 51 produsente gevestig is. Sedertdien het die produksie van Eksteenskuil verhoog van 600 ton/jaar (oftewel ’n omset van R12 miljoen) na 2 000 ton/jaar (’n omset van R40 miljoen). Die projek het ook gelei tot werkskepping vir ’n verdere 285 mense. Die projek is ondersteun deur die Job Funds.

Op ’n individuele vlak is mnr Dirk Louw van die Silver Moon-boerdery ’n sprekende voorbeeld van transformasie in die bedryf. Hy is befonds deur die department van landbou vir die verbouing van rosyntjies, pekanneute en ander kortermyngewasse soos lusern. Dirk het begin as ’n plaasarbeider en het hom oor ’n tydperk van 10 jaar opgewerk en self ontwikkel, onder die leiding en mentorskap van mnr André Smith (produsent). Vandag staan Dirk bekend as ’n vooruitstrewende produsent in die bedryf. Hy is ook tydens die bedryf se 2018 gala-aand vereer en is aangewys as die beste opkomende produsent in die bedryf; sy suksesverhaal is op die bekende Megaboere TV-reeks uitgesaai. Dirk is tans besig om aanliggende grond aan te skaf en sodoende sy boerdery uit te brei.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui